Die Woord het mens geword...
JOH.1:14-18
Die Woord het mens geword!
Met die eenvoudige sinnetjie vertel Johannes vir ons van die aller belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die hele mensdom.
Die kloof tussen God en mens is oorbrug.
God is nou Immanuel: ‘God met ons!’
God het vlees geword; Hy het mens - volledig mens - geword.
Hy het tabernakel - tentwoning- onder ons kom opslaan.
God, wat deur niemand gesien kan word nie, het 'n mens se gestalte aangeneem, en sigbaar geword. "Ons het Hom gesien en aan Hom geraak" (1Joh.1:1).
Johannes die Doper getuig en roep uit!
Dit wat Johannes hier getuig en uitroep en in vers 30 herhaal as die waarheid; bly tot vandag toe die waarheid!
Die inhoud van sy getuienis was: ‘Hy wat na my kom, is my voor, want Hy was voor my reeds daar!’
Johannes se woorde het meer as 'n dubbelsinnige betekenis:
|
|
 |
In ruimtelike sin: Hy wat agter my was, het my verbygegaan en is nou voor my.
In temporele sin: Hy wat na my gebore is, het nou my senior geword.
In sin van rangorde: Hy wat my mindere was het my meerdere geword. Al drie die betekenisse is ingesluit in die woorde van Johannes.
Die Woord was en is ewig. Hy was en is God. En wat Hy was het Hy gebly toe Hy mens geword het. Daarteenoor was Johannes 'n nietige, tydgebonde mens, wie se lewe juis betekenis en waarde gekry het deur sy getuienis aangaande hierdie Woord!
Johannes het iets begryp van die wonder wat in Jesus Christus gebeur het.
Hy het begryp dat hy self niks is nie, maar dat die Messias, die Seun van God, naby ons gekom het.
Hy, die Seun van die lewende God, is die Een om wie alles gaan. Hy is die belangrikste. Ek is nie werd om sy skoene vas te maak nie!
So praat iemand wat met die Seun van God te doen gekry het en wat iets verstaan van die mens Jesus wat op die aarde geloop het.
|
Nou kan ons ook weer in die komende Kerstyd vir mekaar vra:
Het jy al regtig vir Jesus ontmoet?
Ken jy die Seun van die lewende God?
Kom dan tot die erkenning dat Hy, Jesus, meer belangrik is as jy self!
Dit is as jy werklik glo in Hom as Here en as Christus!
Het Hy werklik al die belangrikste plek in jou lewe ingeneem?
Toets dit 'n slag!
Kan jy ook sê: Hy wat ek ontmoet het, was voor my en is belangriker as ek. Ek is maar net daar om van Hom te getuig?
Kom ons getuig werklik met alles wat ons het en wat ons is: ‘Jesus is Here van my lewe!’
Mag ons lewende getuienis die belangrikste geskenk wees wat ons hierdie kersfees - tyd aan ander gee!
Ds Anton Mocke |
 |
|
|
|
Bloemhof-kantoor baie dankbaar vir skenking

Bloemhof-kantoor het gedurende Novembermaand vanjaar ‘n groot donasie blikkieskos by die plaaslike skool gekry. Die skoolhoof en kinders het dit persoonlik kom afgee. “Ons is baie dankbaar, ”sê Griet en Zets.

|
|
|
|
BBK Afsluiting
Die Bejaardesorg Bestuurskomitee het op 15 November die jaar met ‘n uitstappie na ‘n wildsplaas buite Schweizer-Reneke afgesluit. Almal het die dag baie geniet en kon vir ‘n wyle al die werk by die tehuise bietjie op die agtergrond skuif. Marié Leonard van Silwerjare het dit gereël en volgens die bestuurders en verpleegkundiges was die wildsrit ‘n hoogtepunt.
 |
 |
| Sr Hannetjie Barnard (Japie Kritzinger Tehuis), Sr Connie Sequeira (Luipaardsvlei Tehuis), Schalk Hoon (Bestuurder Wolmaransstad Tehuis), Sr Marié Leonard (Bestuurder Silwerjare Tehuis) en Ingrid Knoetze (Bestuurder, Japie Kritzinger Tehuis) |
Bestuurders en verpleegkundiges in ‘n ligte luim voor die wildsrit |
|
|
|
'n Glimlag van dankbaarheid
“Daar gaan nooit ‘n dag verby wat ek nie vinnig aan Chris se ongeluk dink nie. Al is dit net om my keer op keer te herinner hoe gelukkig en bevoorreg ek is. Die van julle wat my ken, weet dat my man, Attie vier jaar gelede oor my seun Chris gery het. Ja, dit was skokkend en traumaties, maar ons het aanbeweeg. Ons lewens word nie daardeur gedefinieer nie. Ek probeer hard om my kinders as vegters groot te maak. Ons kies om die lewe positief aan te vat en elke dag se uitdagings trompop te loop. Die slagoffermentaliteit het my nog nooit aangestaan nie.
Daar was egter ‘n paar dinge waaraan ons moes werk voordat ons finaal die ou skuldgevoel kon begrawe. Met die ongeluk het Chris veelvuldige skedel breuke opgedoen. Hy het al sy motoriese funksies verloor en moes van vooraf leer sit, kruip, loop en sommer net beheer oor sy lyfie kry. Hy was doof in sy regteroor en die regterkant van die gesiggie het nie gewerk nie. Die senuwees is afgesny met die skedelbreuke wat hy gehad het. Nou kon hy nie lag of huil sonder dat sy hele gesiggie skeeftrek nie. Elke keer as ons ‘n foto neem of as ons in ‘n winkelsentrum stap en hy lag of huil, sou die mense hom aanstaar. Vir my was dit swaar en ek het gewens daar was iets wat ek kon doen. Ek sou sommer die mense trompop loop en vir hulle vra of hulle wou weet wat gebeur het. Dan sou ek sonder omhaal vir hulle vertel en dan as hulle die storie geken het, sou hulle met ander oë na ons wonderwerkie kyk. Kennis is mag.
Kort na die ongeluk het ek een van die artikels oor die Smile-Stigting gelees en gedink as dit die Here se wil is, sal hierdie mense eendag oor ons pad kom. Vier jaar lank het ek met die artikel in my handsak rondgeloop. Tot Chris my een oggend in Mei 2011 voor skool vra:‘Liewe Jesus het nou al alles in my lyfie reggemaak, maar hoe lank gaan dit vat om my gesiggie reg te maak?’ Toe het ek geweet ek moet die Smile –Stigting kontak.
Hierdie is wonderlike mense. Ek kan nie vir jul verduidelik nie. Dis hul missie en passie in die lewe. Die wil om die omstandighede van ‘n kind te verander. Einde September het hul my laat weet ons moet ‘n konsultasie in Johannesburg bywoon en soos jul weet is die operasie die 2de November gedoen.
Ek het geweet hy was bang vir die operasie en kon voor die tyd nie vir hom jok nie. Ek het gesê dit gaan seer wees, baie seer. Maar Mamma sal daar wees as jy wakker word en Mamma sal jou nie een enkele sekonde alleen los nie. Is dit nie ook wat God aan ons belowe in Deuteronomium nie?
Hy is die oggendom 9:00 teater toe in en het die aand 21:00 uitgekom. Dit was ‘n lang dag. Ek kon hom daardie aand elfuur vir die eerste keer in die intensiewe eenheidsien. Sy eerste woorde was: ‘Ek wil nóú huistoe gaan.’
Dit was ‘n moeilike paar dae, want hy het baie pyn gehad en die gesiggie was baie geswel. So in die stilligheid het ek die een gebed na die ander opgesê, want hulle het boonop sy been in gips gesit om seker te maak dat hy net lê en nie probeer opstaan nie.
Die operasie was die Woensdag en die Vrydag het hy nog baie pyn gehad. Hy kon ook nie eet nie, want hy mag nie gekou of gebyt het nie. Weet julle hoe honger is ‘n sesjarige seuntjie as hy die Dinsdagaand laas geëet het en dis nou Saterdag en hy mag net joghurt of vla eet? Een mamma het vir my ‘n kolwyntjie met sjokoladesplinters gebring en ek was rasend honger, want Chris wou nie hê ek moet uit die kamer gaan nie. Hy was bang en wou nie alleen wees nie. Hy het gelê en slaap en ek dink toe dis nou die ideale tyd om die kolwyntjie te eet, maar net toe ek dit oopmaak, maak meneertjie sy oë oop en vra: ‘Waar is myne?’ Nodeloos om te sê, ek het dit maar gebêre tot hy weer geslaap het.
Na ‘n week is hy ontslaan en is ons huistoe. Hy het nie weer skool bygewoon nie. Die gevaar was net te groot dat hy ‘n stamp op die wang kon kry. Dit sal egter ‘n hele ruk neem vir die senuwee om aan te groei. ‘n Senuwee groei maksimum 1mm ‘n dag en selfs minder. Hierdie senuwee moet in totaal 6cm groei. Ek kan alreeds sien dat Chris se mond en neus meer simmetries is. ‘n Maand en een week na die operasie let ons op dat sy gesiggie nie meer so erg na die linkerkant rem as hy praat nie. Ons kan egter nie wag vir die senuwee om ten volle te werk en vir daardie eerste volbloedglimlag wat die ou gesiggie in vier jaar sal gee nie.
Dit is die wonderlikste Kersgeskenk en ons as gesin is so dankbaar. Dis eintlik te goed om te glo.
Daarom is dit wonderlik om te weet dat God met ons ‘n plan het. Ons kry nie altyd al die antwoorde op ons vrae nie, maar as ons aan Hom vashou, is die pad wat Hy met ons loop nooit vervelig nie.
Dankie vir een en elk se belangstelling en meelewing. Dit is vir my ‘n wonderlike voorreg om deel van die familievan NG Welsyn te wees.”
- Angelique Rossouw is administratiewe beampte by Ver-Wes Maatskaplike Dienste in Wolmaransstad.
|
|
Nuus@personeel en vriende
NG Welsyn Christiana maak weer op 10 Januarie 2012 hul deure oop, nadat die kantoor sowat drie jaar gesluit was weens ‘n gebrek aan personeel.

|
Welkom:
Sandri Appelgryn (links) is aangestel as maatskaplike werker by Randfontein-kantoor.
Welkom ook aan Pinki Sefofu as huishoudster by Gembou sorgsentrumin Roodepoort. |
Totsiens:
- Riana van Vuuren (Lichtenburg-kantoor)
- Juanita Smit van Roodepoort-kantoor
- Katinka Botha het ook bedank as bestuurder van Koster Tehuis vir Bejaardes. Sy gaan voortaan vir haar man se
vervoeronderneming werk.
|
Johan groet na meer as 'n dekade:
- Johan Peyper groet NG Welsyn in die Nuwe Jaar. Hy lê na sowat 11 jaar die tuig neer as bestuurder van Catherine Robson Kinderhuis in Vereeniging en het ‘n beroep aanvaar na die Bybelgenootskap as Organiserende Sekretaris. “Dit was ‘n ervaring wat baie seёn ingehou het en daarom neem ek met groot hartseer van die personeel en kinders afskeid,” sê hy.
|
 |
 |
Geluk!
Johan Peyper se dogter, Jo-Ani Jacobs, is as tweede prinses aangewys tydens die Mev SA 2011 kompetisie. |
| |
Sterkte:
- Ons dink aan Gerda Botes (Potch-kantoor). Haar man het 'n ernstige operasie ondergaan.
- Anton du Toit (regs), geoktroieerde rekenmeester en direksielid van NG Welsyn, het ‘n seldsame virus opgedoen wat sy rugmurg aanval, dit staan bekend as spastisiteit oftewel akute transverse myelitis. Slegs sowat 30 persone word jaarliks in Suid-Afrika gediagnoseer. Hy het ook ‘n dubbele knievervanging gehad. Ons wens hom spoedige beterskap toe.
- Ds Ben Botha, direksielid vir die platteland, het ook ‘n operasie ondergaan. Baie sterkte ook aan hom.
|
 |
Welsynskantore neem afskeid van 2011

Die stylvolle dames van Klerksdorp-kantoor tydens die afsluitingsfunksie. Vlnr: Susan, Faith, Riëtte, Marna en Frika.

Serena du Preez, Anet Hoof, Archie Simbabure, Carin Kruger, Joalta Wilkinson en Leonie Lessing van die Vaaldriehoek-kantore. Archie was een van die drie hane tussen die sowat 60 henne tydens die welsynskantore se onlangse afsluiting. |
|
|
|
Klerksdorp-kantoor sê stylvol dankie
NG Welsyn Klerksdorp het tydens ‘n welwillendheidstee by die plaaslike Protea Hotel verskeie persone bedank vir hulp aan die kantoor gedurende die afgelope jaar.
 |
 |
| Verskeie dominees, vrywilligers en sakepersone het die oggend bygewoon, onder andere di Fanie du Plooy, Francois van Heerden en Nic Bezuidenhout. |
Die kantoor is baie dankbaar teenoor die Fourie-broers. Hulle is groot donateurs en baie betrokke by die kantoor. |
|
|
Vakatures
| BESTUURDER: CATHERINE ROBSON KINDER- EN JEUGSORGSENTRUM, VEREENIGING
Posvereistes:
Die ideale kandidaat beskik oor ‘n toepaslike naskoolse kwalifikasie, die vermoë om ‘n span professionele maatskaplike werkers en kinderversorgers te lei en te motiveer, asook ‘n minimum van 5 jaar toepaslike bestuursondervinding. Tweetaligheid (Afrikaans en Engels), geldige bestuurslisensie en rekenaarvaardigheid (volledige MS-pakket) is noodsaaklik.
Kennis en ervaring van:
Personeel- en FinansiëleBestuur
Arbeidswetgewing
Fondswerwing en Bemarking
Salarispakket onderhandelbaar.
Sluitingsdatum vir aansoeke: 6 Januarie 2012
Rig ‘n verkorte CV (maks 3 bladsye) aan: Die Finansiële Bestuurder, NG Welsyn Hoofkantoor, Posbus 1570, Potchefstroom, 2520 of stuur ‘n e-posna anderton@ngwelsyn.co.za. Verwysing: Catherine Robson bestuurder.
|
MAATSKAPLIKE WERKERS
Posvereistes:
Geregistreer by SARMD, Suid-Afrikaanse burger, geldige rybewys en rekenaarvaardig.
Gauteng:
NGW Vereeniging
Noordwes:
NGW Bloemhof
NGW Lichtenburg
NGW Klerksdorp
Navrae Noordwes: Miranda Visagie
Tel: 018 462 6028. E-pos: miranda@ngwelsyn.co.za
Navrae Gauteng: Shirley Theron
Tel: 011 764 4031. E-pos: smtheron@ngwelsyn.co.za
Of
Heleen Scholtz
Tel: 082 451 7684. E-pos: heleen@ngwelsyn.co.za
|
INRIGTINGBESTUURDER, KOSTER TEHUIS VIR BEJAARDES
Posvereistes:
Applikante moet oor ‘n minimum van graad 12 beskik.
Vyf jaar toepaslike bestuursondervinding.
Tweetalig (Afrikaans en Engels).
Geldige bestuurslisensie.
Rekenaarvaardigheid (volledige MS-pakket) is noodsaaklik.
Nagraadse kwalifikasie sal sterk as aanbeveling dien.
Pligte:
Verouderingsbestuur, personeelbestuur, finansiële bestuur en inrigtingsorg.
Salarispakket is onderhandelbaar.
Sluitingsdatum vir aansoeke: 6 Januarie 2012
Rig ‘n verkorte CV (maks 3 bladsye) aan: Die Finansiële Bestuurder, NG Welsyn Hoofkantoor, Posbus 1570, Potchefstroom, 2520 of stuur ‘n e-pos na anderton@ngwelsyn.co.za.Verwysing: Koster bestuurder. |
|
|
Klerksdorp-inwoners kuier saam
Die Kuiersaam-komitee se jaarlikse Kersete vir die inwoners het op 8 Desember 2011 plaasgevind. Vlnr Esther Janse van Vuuren, Hettie Elmira, Jo-Anne Delport, Kitty Pretorius, Maxie Odendaal, Smittie Groenewald, Johan Meyer (Bestuurder), Florence de Beer, Dorothy Vermaak en Edna Swart.
Die bejaardes van die Tehuis en Schoonspruit Trust het ‘n lekker bederfdag in die Faan Meintjies-wildreservaat geniet.
|
|
|
nuus@Wolmaransstad
Gedurende Augustus 2011 is die provinsiale veldrenne op Wolmaransstad aangebied en die tehuis is genader om die eet- en drinkgoed te verkoop. “Soos gewoonlik het Nicolien, ons kantoordame, haar span bymekaargekry en kon ons na ‘n baie suksesvolle dag amper R15 000 in ons bankrekening deponeer,” sê Schalk.
Verskeie instansies het tydens ‘n onlangse Kersmark by ‘n plaaslike gastehuis hul ware uitgestal en verkoop. Die Tehuis het handwerk van die inwoners te koop aangebied asook heerlike kerrie-en-rys uit hul eie kombuis. Die opbrengs van die geleentheid is aangewend vir die mediese koste van ‘n jong plaaslike kankerlyertjie.
Inwoners ry nou in styl
 |
Gedurende Novembermaand is die goeie nuus ontvang dat die Lotto fondse toegeken het vir die aankoop van ‘n Toyota-bussie.
Die bussie is spesiaal deur Schalk Hoon in Klerksdorp afgehaal en op sy “nooiensrit” na Wolmaransstad geneem. Voortaan sal die inwoners in styl na funksies, begrafnisse en gesellighede vervoer kan word! |
| Vlnr: Andries vd Westhuizen, Roline Kotzee, Sakkie Dreyer, suster Yvonne Odendaal en Schalk Hoon. |
|
Inwoners bereik rekordgetal
Schalk vertel: “sestien maande gelede het ons 65 inwoners gehuisves, maar met goeie bemarking en die aanbou van drie nuwe eenhede en omskepping van stoorkamers, het ons inwonertal vandeesmaand 86 bereik. Tans kan ons 92 inwoners huisves indien alle beddens gevul is.” |
|
Zeerust
NG Welsyn Zeerust se “Noot-vir-Nood” veldtog gedurende 2 -3 Desember vanjaar is goed ondersteun. Die personeel het hulself as toiingrige blikkiedraers aangetrek en ‘n oproep op die plaaslike gemeenskap gedoen om hulle harte oop te maak teenoor mense wat materiële nood ervaar. En R4 000 vir 2 dae is nie te versmaai nie!
 |
Christie, Berdine en kie oortuig as bedelaars. |
|
|
Kersgeskenke maak kinderharte bly
Kinders word heerlik bederf
Susan Agenbag van Klerksdorp-kantoor is deur haar kollegas gedoop as die Queen van Krismis Parties for Kidz – sy het net die vermoё om borge vir geskenkies, koekies en sweeties te kry om die kliёnte se kinders te bederf.
 |

Vereeniging-kantoor se dames met geskenke van die gemeenskapskas vir hul kersboom. |
| |
|
|
Potch Vrouegroep sluit die jaar gesellig saam af
Die vrouegroep van Potchefstroom-kantoor, het op Woensdag, 16 November 2011, die jaar afgesluit. Die dames is bederf met lieflike geskenksakke. Daarna is heerlik tee en verversings saam geniet.
Volgens Retha Erasmus, maatskaplike werker by die kantoor, was dit veral lekker om tannie Jessica, ‘n jarelange vrywilliger saam met hulle te hê, nadat sy onlangs ‘n knie-vervangingsoperasie ondergaan het. Sy is egter reeds weer op die been en hard aan die werk. Tannie Heila Kirstein, nog ‘n jarelange vrywilliger, is egter steeds siek en daar is spesiaal aan haar gedink. Lekker aktiwiteite word vir 2012 beplan.

|
|
|
Die nuusflits word kwartaalliks uitgegee deur NG Welsyn Hoofkantoor in Potchefstroom.
|
|
|
|
|