NG Welsyn...faqs
 
 
 

Vrae en antwoorde

     
Frequently Asked Questions


Werk NG Welsyn net met NG Kerk Lidmate?

Nee. Ons werk vanuit die kerk met alle mense in nood ongeag ras en denominasie.

Wat is die verskil tussen Veiligheidsorg, Pleegsorg en Aanneming?

Veiligheidsorg is 'n tydelike veilige blyplek waar kinders met 'n hofbevel geplaas word. Dit kan by 'n gesin wees of binne 'n inrigting, Dit wissel van 'n paar dae tot 'n paar maande, hangend die afhandeling van die Kinderhofondersoek waar besluit word waar die kinders geplaas moet word.

Pleegsorg is ook 'n tydelike vorm van alternatiewe sorg waar die kind vir 'n periode van twee jaar geplaas word. Die hofbevel word elke twee jaar hersien. Die biologiese ouers behou hulle ouerlike magte bv toestemming tot mediese behandeling en huwelik. Kontak tussen die ouers en kinders word aangemoedig. Pleegouers is geregtig op 'n maandelikse pleegouertoelaag.

Aanneming:Die kind word dmv 'n hofbevel die aanneemouers se wettige kind met al die regte en verantwoordelikhede van 'n biologiese ouer en kind.

Hoe kan mense aansoek doen om kinders in veiligheid-/pleegsorg te neem?

Skakel met die maatskaplike werker van die naaste kantoor van NG Welsyn en voltooi die aansoekvorms om die keuringsproses aan die gang te sit.

Hoe doen mense aansoek om kinders uit die kinderhuis vir 'n naweek of vakansie te ontvang?

Doen aansoek by Catherin Robson Kinderhuis in Vereeniging of by Abraham Kriel Kinderhuis in Potchefstroom deur die nodige aansoekvorms te voltooi. 'n Getuigskrif van hul predikant word benodig asook 'n persoonlike keurings- en passingsonderhoud by die spesifieke kinderhuis self.

Hoe kan 'n aangenome kind sy/haar biologiese ouers opspoor.

Herkomsnavrae word deur 'n sentrale kantoor in Pretoria hanteer. Die maatskaplike weker by enige van NG Welsyn se kantore sal u na die regte persoon kan verwys.

Hoe doen mens aansoek vir opname in 'n tehuis vir bejaardes?

Skakel met die betrokke tehuis vir die nodige aansoekvorms. 'n Verslag van die maatskaplike werker moet die aansoek vergesel.

Hoekom verwyder 'n maatskaplike werker 'n kind uit sy/haar ouerhuis?

Geregistreerde maatskaplike werkers word deur die wet verplig om kinders uit iemand se sorg te verwyder as die omstandighede nie in die kind se beste belang blyk te wees nie. Die wet omskryf duidelik onder watter omstandighede dit mag geskied.

Mag iemand dit verswyg as hulle weet 'n kind word mishandel of gemolesteer? Waar kan dit aangemeld word?

Nee! Dit is volgens wet 'n misdryf om dit te verswyg. Meld dit aan by 'n maatskaplike werker van NG Welsyn of u naaste polisiestasie.

Hoe kan iemand wat deur sy/haar eggenoot mishandel word, gehelp word?

Indien dit onmoontlik is om 'n doeltreffende ondersteuningsstruktuur te help vestig, kan die saak by die maatskaplike werker van NG Welsyn aangemeld word. Indien die nodige intervensie en terapie nie die probleem kan oplos nie kan die persoon na die plaaslike Landdroskantoor verwys word waar 'n interdik ingevolge die Wet op Gesinsgeweld bekom kan word. Daar is die minimum onkostes daaraan verbonde.

Waarheen kan iemand wat 'n aborsie oorweeg vir berading verwys word?

'n Maatskaplike weker by NG Welsyn kan inligting verskaf oor ander opsies of verwys na 'n maatskaplike werker by die plaaslike Provinsiale Hospitaal vir berading.

Waar kry ouers van 'n onbeheerbare kind hulp?

Skakel met die maatskaplike werker van NG Welsyn indien die kind nog skoolpligtig is.

Hoe kan ek na-ure hulp kry ten opsigte van Gesinsgeweld of Kindermishandeling?

Skakel u plaaslike polisiestasie. Hulle kan die kinders beveilig totdat 'n maatskaplike werker verdere ondersoek kan instel.

Waar kan iemand met MIV of VIGS hulp kry?

Skakel met 'n maatskaplike werker van NG Welsyn.

Watter hulpbronne is daar vir mense met 'n drank-of dwelm probleem?

Skakel met 'n maatskaplike werker van NG Welsyn vir berading of vir verwysing na 'n staatsrehabilitasiesentrum deur middel van 'n hofbevel. Ander hulpbronne in die gemeenskap is SANRA (vir behandeling as dagpasient of vir opname oor 'n langer tydperk), verskillende privaatklinieke soos Elim (Kemptonpark), Riverfield Lodge (Krugersdorp), Stabilis (Pretoria) of Sanpark (Klerksdorp) asook die CAD vir nasorg- en ander ondersteuningsdienste.

Watter hulp kan NG Welsyn verleen vir mense in die proses van huweliksverbrokkeling en egskeiding?

NG Welsyn kan hulp verleen met berading asook basiese navrae hanteer oor prosedures met betrekking tot egskeiding, regshulp, toesig en beheer, onderhoud, en die rol en dienste van die Gesinsadvokaat.

Watter hulpbronne is daar vir werkloses, persone sonder verblyf en boemelaars?

Die verskillende kantore van NG Welsyn het lyste met die moontlike hulpbronne in die gemeenskap.

By watter take kan vrywilligers betrokke raak?

By 'n verskeidenheid van ondersteunende take soos hulp met die insameling en verspreiding van voedselpakkies en klerasie, vervoer, vakansietoesigdienste wanneer kinders vir vakansies by hulle ouers kuier, hulp met projekte en fondsinsameling.

As die gemeente of selgroep betrokke wil raak by uitreikaksie, met wie kan hulle skakel?

Skakel met die maatskaplike werker van die plaaslike kantoor of die gemeenskapswerkbestuurder.

Waarheen kan voedsel en tweedehandse klerasie geneem word?

Neem dit asseblief na die naaste kantoor van NG Welsyn.

Is daar 'n waarborg dat geld of goedere wat vir 'n spesifieke saak geskenk word, wel daarby sal uitkom?

Ja. Donateurs se wense word sover prakties moontlik en uitvoerbaar, gerespekteer.

Wie kan my help om uit te reik na gemeenskappe wat vir my onbekend is?

Skakel die gemeenskapswerkbestuurder om u te help met navorsing, projekbeplanning-, ontwikkeling-, en implementering.

     

Webblad ontwerp:: www.coeniecalitz.com E-pos: cjcalitz@lantic.net